‘n Huldeblyk aan Thabo Alfred Monareng

Posted on

15 November 1959 – 17 September 2019

Vir 23 jaar was Thabo eers Freddy, en toe Mark, se regterhand met  die Kromspruit Dohne-Merinostoet op Stormhoek, en hy was die stoetmeester, vertroueling en vriend. Dag na dag was hy saam met ons tussen die skape, en ons kon altyd sy raad vertrou, want Thabo het goed geweet waarvan hy praat! 

Vir Freddy en Selma was dit ’n baie groot voorreg dat Mark, hulle seun, aan Thabo se sy kon groot word,  en die skape deur die jare kon leer ken, veral met lamseisoen en skeertyd.  

In 2017 het Thabo afgetree as gevolg van emfiseem, maar hy het nie uitgetree nie!  Ten spyte van sy siekte en swakheid, het hy steeds elke jaar getrou kom help gedurende die lamseisoen.  Een keer ’n maand het hy die kuddes besoek, raad gegee en kennis gedeel. Ons dink hy het maar net ’n rede gesoek om by die skape te wees waarvoor hy so lief was.

Thabo was ’n bekende op alle Dohne-veilings, asook geliefd en gerespekteer onder die telers. Selfs onder die Australiërs was hy `n bekende en ’n legende!  Hy was vir jare die as van die Kromspruitstoet op die plaas.  Jy kon met eerbied na hom luister by die uitsit van ramme vir die verskillende parings. Wat ’n voorreg was dit nie om Thabo te sien as hy sy kennis entoesiasties met mense gedeel het nie. Hy was ’n voortreflike bemarker! Gelukkig het hy ook die kennis aan sy seun, Pefu, oorgedra, en Pefu moet nou sy pa se rol oorneem.

Maar helaas, die finale dag het vir Thabo op 17 September 2019 aangebreek. Terloops, die naam Thabo beteken “om bly te wees”.  Ons, die Schmidt-familie is bly, en ons is dankbaar, dat Thabo deel van ons lewens was.  Sonder hom sou ons veel armer gewees het.

Ons wil ook met Thabo se hele familie simpatiseer.  Julle moet weet dat ons vir Thabo lief was en dat ons baie na hom sal verlang.  Pefu, jou pa het ’n groot hart gehad, en ons sal sy nagedagtenis altyd onthou en eer!

Ons groet jou, Thabo!