9 Julie 2021 se Veiling
Kopers regoor Suid-Afrika het die 44ste veiling op Vrydag, 9 Julie 2021 ondersteun. Behalwe die lojale plaaslike kopers het ondersteunders van so ver as Velddrif in die Suid-Kaap, Stella, Hobhouse en Lydenburg flink gebie.
Ooie: Die duurste tweeling-dragtig gesertifiseerde ooie behaal R4 600 stuk en is aangekoop deur Johan en Lizelle Hattingh van Warden. Hulle het ook die tweede duurste Lot gekoop vir R4 400 stuk. Stormhoek se kwaliteit-ooie uit die boeke!
Ramme: Die duurste ram (Lot 21) is gekoop deur Koos Eloff van Pretoria teen R30 000 en die tweede duurste ram (Lot 8; R28 000) deur Herman en Gerbrie Botha van Vryheid. Hyett Beef van Bergville het Lot 40 aangekoop, ook teen R28 000. Cornel Kruger van Lumier betaal R27 000 vir Lot 44 en Gerrie Meyer van Bethlehem betaal R25 000 vir Lot 12. Die kwaliteit van die ramme was uitstekend en ‘n gemiddeld van R16 323 oor die 62 ramme wat aangebied was, is behaal.
Bulle: Die Bovelderbulle was ook van ‘n besondere kwaliteit en getuig van Freddy en Mark se toewyding ook aan hulle beesboerdery – net soos by hulle skaapboerdery. Die vyf duurste bulle is soos volg verkoop:
Rome Boerdery (Jacques en Allie Prinsloo) van Vrede koop Lot 10 aan teen R92 000. Koodoo Lake Trust (Emil Bothma) van Stella koop die tweede, derde en vierde duurste Lotte (Lot 34; 14 en 17) teen onderskeidelik R85 000, R77 000 en R72 000 aan. Lot 38 is aangekoop deur LJ Viljoen van Bethal, ook teen R72 000. Die gemmiddeld oor al die bulle was R54 667, met ‘n 100% verkope!
Wat hierdie 44ste veiling so uniek gemaak het, is dat dit eintlik slegs aanlyn aangebied was aangesien daar ‘n totale verbod was op die aanbied van veilings op die tradisionele manier. Ons moes op kort kennisgewing baie aanpassings maak, maar te danke aan almal se bystand het die dag baie goed verloop.
Ons wil graag vir die volgende mense en besighede bedank:
SwiftVee: Die aanlynveilingsplatform het ‘n ongelooflike bydrae gemaak tot hierdie veiling terwyl gewone veilings nie mag plaasgevind het nie.
Afslaer: Paul Botha van Vleissentraal Ermelo het vir Ian Grobbelaar, wat die veiling elke keer hou, ingestaan. Paul het baie goeie werk gedoen saam met die Vleissentraal-span van Frankfort, die ondersteuning van Danie de Wet en Theuns Botha en hulle BKB-kollegas, sowel as OVK se wolbeamptes.
Dawid Botha: Hy hanteer die bemarking van die afgelope 6 Kromspruit-veilings op ‘n baie persoonlike vlak. Baie aandag word aan detail gegee.
Talita Blom: Talita is van TLCreative op Frankfort, en hanteer die grafiese werk vir o.a. die advertensies.
Die volgende veiling word voorlopig in Februarie 2022 aangebied en sal weer bestaan uit ooie, ramme en bulle, maar ‘n groot aantal uitmuntende vroulike Bovelders sal ook beskikbaar wees.