Ons boer hoofsaaklik met die Bovelderras. Dié ras is maklik bestuurbaar, en is aangepas vir die suurveld.

Daar word jaarliks 500 verse en 150 bulkalwers teruggehou.  Die 500 verse word gepaar en alle verse, ongeveer 300, wat binne 21 dae dragtig raak, word teruggehou in die kudde.  Die volwasse koeie word gepaar in November, Desember en Januarie. Meer as 90% van die vroulike diere kalf in die eerste 60 dae van die kalfseisoen. Ons is trots op hierdie prestasie wat getuig van vrugbaarheid. Die vroulike diere word bestuur in hulle vyf onderskeie ouderdomsgroepe.  Seleksie is baie streng en enige dier wat oorslaan word uit die kudde verwyder.  Alle koeie word op 8-jarige ouderdom (na 5 kalwers) verkoop, en het dus elke keer ‘n kalf gelewer in hulle produktiewe lewe.  Dus kan u die heel vrugbaarste koeie uit ons kudde op ons veilings bekom.

Bulle ondergaan die Veldbul SA-toets en alle bulle word een maal in die kudde gebruik.  Van die 80 bulle wat gebruik word, word die beste 50 op die tweede prouksieveiling van die jaar  op Stormhoek verkoop. Hierdie ongevoerde, aangepaste, suurveldbulle sal werklik enige plek in SA goeie resultate lewer.  Hulle produseer van gras af.

Kuddegesondheid is van uiterste belang vir ons, en verskalwers word met Brucella abortus (Stam 19) geëent nog voor hulle die ouderdom van 6 maande bereik. Ons ent in teen, onder andere, knopvelsiekte, sponssiekte, lamsiekte en miltsiekte.  Scourguard word 60 dae voor kalwing gespuit.